Kinders wat net oorleef kan nie droom nie en sonder ‘n droom kan hy/sy nie ‘n toekoms visualiseer nie en bly die motivering om dit te bereik, ongebore.
‘n Leerder kan die heel beste akademiese geleentheid gebied word, maar indien hy/sy a.g.v. fisiese, psigiese, emosionele, intellektuele of maatskaplike uitdagings of struikelblokke daardie geleenthede nie kan benut nie of dit ontoeganklik raak, kan hy/sy nie tot hul volle potensiaal ontwikkel nie.
Die Therapy Shack word hoofsaaklik beman deur ‘n geregistreerde maatskaplike werker. Laasgenoemde lewer vanuit ‘n holistiese benadering terapeutiese dienste en materiële hulp aan leerders en hul primêre versorgers in samewerking met ‘n multi-professionele span en eksterne organisasies.
Hulpverlening en steun stelsels word so geïmplementeer dat daar ‘n gunstige omgewing geskep word waarbinne die leerder die gegewe onderwysgeleentheid optimaal kan benut in die afwesigheid van emosionele, intellektuele, sosio-ekonomiese en maatskaplike hindernisse. Dit word hoofsaaklik bereik deur die implementering van maatskaplike werkbeginsels en -metodes binne die opvoedkundige sisteem.
Ons nooi elke ouer en voog uit om met vrymoedigheid van ons oop-deur-beleid gebruik te maak. U kind se beste belang is ons enigste belang.